gallery/sea of galilea
Passiespele 2020 / Passion Play 2020

toerprogram
 

Dag 1 - OR Tambo na Ben Gurion    

Vertrek na Kairo, vanwaar 'n aansluitingsvlug na Israel se Ben Gurion Lughawe geneem word.  Ben Gurion Lughawe (of "Natbag" soos die lokale mense dit noem) is vernoem na Israel se 1e Eerste Minister, David Ben Gurion.  Na afhandeling van die formaliteite op die lughawe en by die Hotel, is dit bykans middernag en tyd om te gaan rus.  

Dag 2 - Tel Aviv 

Na ontbyt, is die res van die dag vry om Tel Aviv na hartelus te verken.  Onthou om erens te rus - more gaan 'n lang dag wees!

Dag 3:  Jaffa, Caesarea Maritima, Berg Carmel, Megiddo en See van Galilea

Geniet 'n heerlike ontbyt - vandag is 'n vol dag!  Eerste op die lys is 'n besoek aan "Old Town Jaffa" - ook bekend as Joppa / Joppe.  Die hawe in Jaffa is die hawe waarheen Jona gekom het toe hy van God wou vlug, in plaas van om na Tarsis te gaan.  Die hawe was die hoof toegangsroete in die tyd van Koning Salomo - die seder balke vir die tempel het ook deur die hawe die land binne gekom.

Ceasarea Maritima - 'n Israeliese Nasionale Park wat die oorblyfsels van die geskiedkundige Caesarea huisves.  Dit is volgens oorlewering ook die plek waar Paulus die eerste bekeerling gedoop het.  Besoek ook die teater en perdebaan - alles naby mekaar en 'n moet om te sien.

Volgende op die agenda is die Bahai Tuine - ook bekend as die Hangende Tuine van Haifa - op die bekende Berg Carmel.   Berg Carmel - Die berg waar die geskiedenis tussen Elia en die Baal-profete afgespeel het. Twee offers is gebring - een deur en Elia en deur die Baal profete.  Die reel was dat geen mens die offers aan die brand mag steek nie.  Die Baal profete het alles in hulle mag probeer, maar sonder sukses.  Elia het hulle geterg en getreiter, hy het geweet hy dien die enigste ware God.  God het Elia se offer verbrand en Elia het die valse profete om die lewe gebring. 

Volgende aan die beurt is die Akko/Accra Kruisvaardervesting en dan die ongelooflike Rosh Hanikra grotte.  Die kabelkar by die grotte alleen is reeds 'n belewenis - dit is die steilste in die wereld!  Die wandelpad in die grotte met hul turkoois water laat jou voel of jy in 'n ander wereld is.

Meggido - Volgens Openbaring die plek waar die finale veldslag tussen goed en kwaad gaan plaasvind.  Megiddo is gelee 35 km Suid-oos van Haifa, aan die suidelike kant van die vrugbare Jezreel vallei.

Oornag by die See van Galilea in 'n lieflike, historiese gebou.

 

 

Dag 4: See van Galilea, Bania Tuine, Hula Vallei

Vaar oor die See van Galilea met 'n bootjie soortgelyk aan die waarop Jesus gevaar het (sou die weer dit toelaat).  'n Ondervinding wat nie mag misgeloop word nie. 

Ons verken Tabghagelee op die Noord-wes oewer van die See van Galilea en word tradisioneel aanvaar as die plek waar die eerste vermeerdering van die brood en visse plaasgevind het, asook die plek van Jesus se vierde verskyning na sy kruisiging.  Besoek ook die kerkie (Church of Multiplication), gebou ter herdenking van die vermeerdering van die brode en visse.  Die kerk is gebou bo-oor twee vorige kerkies.  Bring daarna 'n besoek aan die moderne Katolieke kerk Domus Galilaeae, waar daar pragtige beeldhouwerk van Jesus en die 12 dissipels te sien is.  

Die volgende besoekpunt is Banias, die ou aanbiddingsplek van die god Pan,  gelee aan die voet van Berg Hermon.  Pan was die god van wild, herders en die natuur. 

Die Hula Vallei is 'n moet vir al die boere in die toer.  Hier is water in oorvloed en die talle voels wat hier gesien kan word, maar enige besoek die moeite werd.  Na 'n lang, vol dag word daar weer by die See van Galilea oornag.

 

 

Dag 5: Berg van Saligsprekinge, Capernaum, Beit She'an, Qumran Nasionale Park end die Dooie See 

Begin die dag met 'n besoek aan die koppie waar Jesus na oorlewering die Bergrede gelewer het (Mattheus 5 - 7 en Lukas 6).  Bo-op die berg is daar 'n Katolieke kerk wat in 1939 gebou is met die hulp van die Italiaanse regeerder Mussolini. 

Capernaum is 'n klein vissersdorpie aan die noordekant van die See van Galilea - die plek waar Jesus die meeste van sy tyd deurgebring het.  Hier is 'n lieflike ou sinagoge met mosaik wat uit die tyd van Christus dateer.  Die volgende punt is Beit She'an, 'n historiese Bybelse stad, gelee tussen die Jordaan Vallei en die Jesreel Vallei. 

Qumran Nationale Park - strak gebergtes in 'n uitgestrekte woestyn - ook die plek waar die Dooie See Perkamentrolle gevind is.  'n Plek wat met 'n mens praat.  Vanaand oornag jy by die Dooie See - 9.6 keer souter as die oseaan.

Dag 6: Ramon Lugmag Basis, Carmey Ardat Wynplaas en die Ramon Krater

Tyd vir iets heel anders - maar iets wat moet ingesluit word in die toer.  Eerste op die lys is 'n besoek aan die formidabele Ramon Lugmagbasis, Suid-Wes van Beersheba.  Dit beloof om 'n onvergeetlike ondervinding te wees - sulke toere word nie as 'n reel toegelaat nie. 

Na 'n lang dag in die dorre woestyn is dit tyd vir 'n lafenis - 'n besoek aan 'n wynplaas.  Regtig, ja!  'n Wynplaas in die middel van die woestyn. Carmey Avdat is werklik 'n oase - iets wat mens moet sien. 

Die Ramon Krater is gelee in Israel se Negev Woestyn en is die wereld se grootste erosie krater, na bewering geskep 220 miljoen jaar gelede toe oseane nog die area bedek het.  Die krater is 40km lank, tussen 2 en 10 km breed en hartvormig!  Oornag in die Ramon Suites Hotel in die middel van die woestyn. 

Dag 7: Koning Herodus se badhuis, Ein Gedi, Jerusalem, "Mount Scopus" en Jerusalem

Een van die hoogtepunte van 'n toer van Masada, is 'n besoek aan Koning Herodus se badhuis.  Die badhuis bestaan uit vier "kamers" - ' Apodyterium of aantrek kamer, 'n Caldarium of sauna (die warm baddens), 'n Tepidarium of tussenkamer en dan die Frigidarium of koue badkamer.

Ein Gedi is 'n oase en natuurreservaat wes van die Dooie see en naby Masada en die Qumran Reservaat.  Dit is ook die plek waar Dawid weggekruip het vir Saul. 

Jerusalem - die heilige stad.  'n Moet om te sien is die Israel museum wat onder andere 'n perkamentrol huisves met Psalm 66 daarop, asook die Dooie See Perkamentrolle.  Daar is ook 'n model van hoe die stad gelyk het in Jesus se tyd. 

Mount Scopus bied 'n lieflike uitsig oor Jerusalem.  Deur die jare het hierdie uitkyk plek 'n strategiese rol gespeel in talle oorloe.  Oornag in Jerusalem.

Dag 8: Olyfberg, Dominus Flevit, Getsemane, Wes-muur, "Temple Mount", St Anne Kerk, Bad van Bethesda 

Die Olyfberg oos van Jerusalem skei die Heilige stad van die Juda woestyn.  Die Kidron Vallei skei Jerusalem van die Olyfberg.  Volgens oorlewering het Koning Dawid hier weggekruip vir sy seun Absolom.  Pluk 'n olyfblaartjie in een van die ou wingerde as 'n aandenking.  Dominus Flevit is 'n Rooms-Katolieke kerk op die Olyfberg.  Die wyse waarop die kerk gebou is, is 'n sinspeling op die trane van Christus. 

Getsemane is 'n tuin aan die voet van die Olyfberg, waar Jesus gebid het terwyl sy dissipels geslaap het die aand voor sy kruisiging.  Hier het Judas Iskariot ook vir Jesus verraai.  Die Wes-muur of "Wailing Wall of Kotel" is 'n antieke muur in ou Jerusalem.  Die Wes-muur word gesien as heilig, as gevolg van die konneksie met die tempel.  Dit word gesien as die heiligste plek waar die Jode mag aanbid. 

Die "Temple Mount" is 'n koppie in ou Jerusalem, een van die belangrikste religieuse plekke in die wereld, met spesifieke betekenis vir Judaisme, Christene en Moslems. Die Kerk van St Anne is 'n Rooms-Katoliek kerk aan die begin van die Via Dolorosa, naby die "Lions Gate".  Na oorlewering was dit die geboorteplek van Maria, Moeder van Jesus.  Die Bad van Bethesda is tans onder Moslem beheer en mag dalk nie besoek kan word nie.  Oornag vanaand weer in Jerusalem.

Dag 9: Sionsberg, Bo-kamer, Koning Dawid se graf, Ein Korem, "Church of Visitation"

Begin die dag met 'n besoek aan Berg Sion aan die Suid-ooste kant van Jerusalem.  Daarna volg 'n besoek aan Koning Dawid se graf en die Bo-kamer, 'n vertrek waar die laaste maaltyd na oorlewering gehou is. 

Ein Korem is 'n klein dorpie in die Jerusalem distrik - die geboortplek van Johannes die Doper.  Die volgende stop is die "Church of Visitation" - die kerk herdenk die besoek van Maria, Moeder van Jesus, aan Elizabeth, Moeder van Johannes die Doper.

Dag 10: Vry

Vandag is joune om te maak soos jy wil.  Besoek Petra of verlustig jou in die besienswaardighede van Jerusalem.

Dag 11: Via Dolorosa, Saal van Pilatus, Tuingraf en Tel Aviv

Stap die Via Dolorosa - die lydingsweg wat Jesus gestap het, op jou tyd.  Langs die pad, besoek die Saal waar Pilatus Jesus verhoor het en toe sy hande in onskuld gewas het.  Eindig met 'n besoek aan die Tuingraf, waar Jesus na oorlewering begrawe is.  As almal weer herenig is, word nagmaal bedien.

Dit is die einde van die Israel toer, vanaand oornag jy in Tel Aviv, voor jy more na Duitsland vertrek vir die Passiespele.

Dag 12: Tel Aviv na Munich

Vertrek vroegoggend na Munich, Duitsland.  Met jou aankoms vertrek jy na Marnau am Staffelsee, waar jy die volgende paar aande oornag.

Dag 13: Passiespele

Die hoogtepunt van die toer - iets wat net elke 10 jaar gebeur, die 2020 Passiespele!  

Dag 14: OR Tambo

Die einde van nog 'n lieflike toer - hoop ons sien jou gou weer!

Besoek die plekke waarvan jy voorheen slegs in die Bybel gelees het, met die Passiespele as hoogtepunt.

gallery/garden tomb
gallery/tabgha
gallery/tel aviv
gallery/kruisiging
gallery/old town jaffa
gallery/bahai gardens
gallery/ramon crater
gallery/dominus flevit
gallery/king davids tomb
gallery/rosh hanikra grottos
gallery/mount of beatitudes3